SOS Bekendstelling, Eikestadnuus, 8 Junie 2012

 

REMGRO gaan op ‘n nuwe wyse betrokke raak by gemeenskapsorganisasies in ‘n poging om ‘n blywende bydrae tot die Stellenbosse gemeenskap te maak. “Remgro moedig sy personeel aan om as vrywilligers by reeds-gevestigde projekte in die gemeenskap betrokke te wees,” het Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro, gese.

Die projek Strengthen our Society (SOS)- wat Remgro in samewerking met die Groter Stellenbosch Development Trust (GSDT) aanpak – is vandeesweek by ‘n geselligheid aan sakeleiers en leiers uit die gemeenskap bekend gestel. “Ons wil iets ondersteun wat ‘n verskil maak op ‘n plaaslike vlak. Daarom stel ons nie net ons eie personeel beskikbaar nie, maar doen ‘n beroep op ander om ook hul mense beskikbaar te stel om ‘n verskil te maak. “Ons wil he dit moet ‘n voorbeeld wees wat deur die res van Suid-Afrika ook nagestreef kan word. Ons wil Stellenbosch ‘n dorp maak waarop almal wat hier woon, trots kan wees,” het Durand by die geleentheid gese. SOS is besig om ‘n brug in Stellenbosch tussen sakeondernemings en organisasies wat gemeenskapswerk doen, te bou. SOS se onmiddellike doelwit is om binne die volgende jaar 12 gemeenskapsorganisasies in Stellenbosch te versterk met die implementering van ‘n in-diepte ondersoek by die organisasie, opleiding deur kursusse en die daaropvolgende toepassing van die nuwe kennis met behulp van kundige vrywilligers en mentors.

Sodoende word gemeenskapsorganisasies versterk met beter administratiewe vermoens, finansiele administrasie, webwerf en sosiale media gebruik, die hou van vergaderings en notules en ook die aanwending van vrywilligers. Stephanie Mouton van Akkerdoppies Creche, een van die 12 organisasies wat ingesluit is, is baie opgewonde oor die projek. “Dit sal interessant wees om te sien hoe dit gaan werk. Die vooruitsig dat ons almal gaan handevat en saam werk is wonderlik.” Riette Steenkamp ook van Akkerdoppies het gese dat elke organisasie se doel tog is om die gemeenskap te help en nou kry hulle kans om saam te span. Vir Kim Klir van Seed wag daar ‘n opwindende tyd op almal betrokke. “Ek dink dit is goed dat almal aangemoedig word om saam te werk.” Die organisasies wat gekies is, sluit in Africa Institute HIV/ Aids Project, Akkerdoppies Creche, Bergzicht Ontwikkelingsentrum, Caleb Development Training, INSPIREtoREAD, Pniel Heritage and Cultural Trust, Projek 2-22, Seasons Crisis Pregnancy Centre, Stellenbosch Entrepreneur and Enterprise Development (Seed), Usiko Stellenbosch, Vlaeberg Gemeenskapsentrum en Vineyard Community Foster Homes.

 

 

Comments are closed.